Die Universiteit Stellenbosch (US) was op 12 en 13 Junie 2024 die gasheer van ʼn konferensie met die titel, “Controversies in the use of race and other human categorisations in the South African higher education sector” (Omstredenheid oor die gebruik van ras en ander kategoriserings in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor). Hierdie konferensie het plaasgevind by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) en is gereël deur die Universiteit se Komitee vir die Institusionele Reaksie op die (Khampepe-) Kommissie (CIRCoRe) se werkstroom wat sake met betrekking tot ras, menslike kategorisering en die wetenskap (RMKW) hanteer.

Phila Msimang, senior dosent in die Departement Filosofie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, staan aan die hoof van die RMKW-werkstroom.

Msimang, wat, onder andere, navorsing oor die filosofie van ras en die meegaande kwessies daarvan doen en dit doseer, was die voorsitter van die verrigtinge van die konferensie.

“Ek kyk na hoe groepsbeskrywers soos ras en etnisiteit in verskillende kontekste gebruik word,” het Msimang oor sy navorsing gesê.“Ek stel hoofsaaklik belang in die gebruik daarvan in die wetenskap en hoe daardie gebruike met maatskaplike probleme verband hou. As sodanig, is wetenskaplike rassisme en die erflatings daarvan in hedendaagse dissiplines, die gebruik van rasseklassifikasies in gesondheid en hoe dit met ongelykheidsnavorsing verband hou, die gebruik van rasseklassifikasies in beleid, en so meer, sommige van die onderwerpe wat ek aanpak.”

Die konferensie is aangebied as voltallige sessies wat aanbiedings en paneelbesprekings ingesluit het. Die hoofsprekers by die konferensie keynote spea​​was professor Crain Soudien, emeritus professor van opvoeding en Afrikastudies aan die Universiteit van Kaapstad, wat sy toespraak op 12 Junie gelewer het, en professor Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die US, wat die hoofrede op 13 Junie gelewer het.

Die konferensiegehoor was nogal divers. Die grootste deel van die gehoor het bestaan uit mense in hoër onderwys, soos personeel en studente, maar daar was ook gemeenskapsverteenwoordiging deur aktiviste en ander belanghebbende partye. Die afgevaardigdes na die konferensie was akademici, studenteleiers, personeel en lede van die groter hoëronderwysgemeenskap.

Msimang het opgemerk dat daar ʼn groot vraag was na ʼn konferensie wat die kwessies ter tafel kon ondersoek. “Die konferensie het mense byeengebring wat in verskillende ruimtes aan soortgelyke probleme werk, op ʼn wyse wat hulle help om gebiede te vind waar hulle kan saamwerk om die kwessies wat vir hulle van belang is, te takel,” het hy bygevoeg.

“Dit is op platforms en by omgang van hierdie aard dat ons leer dat daar talle groot navorsingsinisiatiewe in die hoëronderwyssektor en aan die US in die besonder, aan die gebeur is, wat ten doel het om rasseongelykhede aan te pak,” het Msimang gesê. “Hierdie inisiatiewe word bedryf uit die perspektief van verskillende dissiplines, van sosiologie tot kliniese anatomie of ingenieurswese. Die aanbod van die konferensie was dus op hierdie wyse multidissiplinêr. Die uitdaging wat vir ons oorbly, is om werklik transdissiplinêre werk te vestig wat probleemgedrewe is en kan put uit kundigheid oor dissiplines heen, eerder as net sover as wat spesifieke dissiplinêre beperkings toelaat.”

Dit is egter nog nie die einde van die pad ten opsigte van die konferensietemas en fokusgebiede nie. Kleiner geleenthede vir verskillende omgewings word vir die US beplan, om die besprekings wat tydens die konferensie begin het, voort te sit. ʼn Internasionale konferensie oor soortgelyke temas word ook vir 2025 beplan.

Mnr Phila Msimang is die hoof van CIRCoRe-werkstroom wat sake met betrekking tot ras, menslike kategorisering en die wetenskap (RMKW) hanteer en ʼn senior dosent in die Departement Filosofie. Hy was ʼn mede-organiseerder en ook die aanbieder van die konferensie.