Deur Desmond Thompson
Die stryd om geregtigheid neem verskeie vorme aan. Vir sommige ontvou dit in die wandelgange van die internasionale regstelsel; vir ander in stille verset in kombuise en moskees.
By die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ)AVReQbring twee meestersgraadstudente van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe hierdie wêrelde byeen – die een deur te kyk na hoe daar na gruweldade verwys word; die ander deur die herontdekking van ʼn versweë geskiedenis van weerstand.
Nuwe bevindinge oor ‘volksmoord’
In September was daar twee belangrike verwikkelinge in die globale debat oor die Midde-Ooste. Aan die begin van die maand het die internasionale vereniging van volksmoord-navorsers (IAGS) gesê dat Israel se optrede in Gaza voldoen aan die wetlike definisie van volksmoord onder die Verenigde Nasies (VN) Volksmoord-konvensie van 1948. konvensieTwee weke later, het 'n VN kommissie van ondersoek 'n soortgelyke bevinding gemaak en gesê senior Israelse leiers moet aanspreeklik gehou word.
Israel het beide bevindings verwerp. Die regering hou vol sy militêre veldtog is nie teen burgerlikes gemik nie, maar teen Hamas ná dié organisasie se aanvalle in Israel op 7 Oktober 2023.
Vir die AVReQ-genoot Yaadein Padiachywat haar meestersgraad in Politieke Wetenskap onder dr Guy Lamb doen, verander hierdie verwikkelinge hoe sy een van haar gevallestudies benader. "Ek beskou Palestina nou as 'n betwiste ‘volksmoord’," sê sy. Haar studieleier by AVReQ is dr Sophia Sanan.
Die betekenis van ʼn woord
In haar tesis stel Padiachy ondersoek in na die betekenis van woorde in die konteks van die internasionale politiek – spesifiek ‘volksmoord’ en ‘misdrywe teen die mensdom’. Sy vra waarom sommige massagruweldade ‘volksmoord’ genoem word, maar ander nie.
"Ek kyk na die werk van Raphael Lemkin, wat die term 'volksmoord' geskep het, en Hersch Lauterpacht, wat ‘misdrywe teen die mensdom' verkies het – beide in die 1940's, veral in die konteks van die Neurenberg-verhore ná die Tweede Wêreldoorlog," sê sy.
Sy gebruik vier gevallestudies: massagruweldade in Palestina, sowel as in Europa onder die Nazi’s, in Armenië en in Guatemala. Sy voer aan dat die definisie wat uiteindelik in die Volksmoord-konvensie vasgevang is, te eng is aangesien dit kulturele uitwissing uitsluit. Dít sou lande in staat stel om te ontken dat daar ʼn probleem is totdat dit "te laat" is.
Padiachy se belangstelling in volksmoordstudies is gewortel in haar solidariteit met die mense van Palestina – polities sowel as akademies.
Sy verbind ook die definisie van volksmoord met huidige debatte in Suid-Afrika. Vroeër vanjaar het pres Donald Trump van die VSA die sogenaamde ‘wit volksmoord’-kontroversie weer aangevuur deur te steun op narratiewe oor ‘plaasmoorde’. Pres Cyril Ramaphosa het egter beklemtoon dat hoë vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika álle mense raak, nie net ʼn sekere groep nie.
Vir Padiachy illustreer dít die “groter probleem – die lyding van wit mense word belangriker geag as die lyding van swart en bruin mense”.
Herontdekking van die verlede
Terwyl Padiachy internasionale definisies van gruweldaad bevraagteken dokumenteer Irshaad Suliman Irshaad Suliman, 26, haar medestudent by AVReQ, plaaslike weerstand wat oor die hoof gesien is. Vir sy meestersgraad in Geskiedenis onder dr Chet Fransch kyk Suliman na die versweë bydrae van Moslems in Kaapstad tot die stryd teen apartheid van 1950 tot 1996. Sy studieleier by AVReQ is dr Anell Daries.
Suliman voer sy belangstelling terug na die tyd wat hy in die Robbeneiland Mayibuye argief hy sy honneurs aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) gedoen hetUWCDaar het hy op gesmokkelde notas afgekom wat tydens aanhouding deur imam Abdullah Haron geskryf is. Dié geestelike leier het 'n martelaar vir Kaapse Moslem-weerstand geword toe hy in 1969 in polisie-aanhouding dood is. Sowat 30 000 mense het sy begrafnis bygewoon.
Suliman stel egter minder in Haron belang as in die stories van die vele ander mense wat stilweg weerstand teen apartheid gebied het.
“Die ‘groot figure’ is iemand soos imam Haron,” verduidelik hy. “Maar daar was ook alledaagse, ‘klein figure’ wat weerstand gebied het – in huise, skole, moskees en kombuise. Organisasies soos Nakhlistan het bv. kos vir die gemeenskap gekook as 'n vorm van ondersteuning en stille weerstand.”
In sy navorsing fokus Suliman op onderwysers, studente, vroue en gemeenskapsleiers – mense wie se bydraes oor die hoof gesien word in narratiewe wat op ikone fokus. Hy herwin die verhale van figure soos Boeta Dawood Khan, Noor Mohamed Fakie, Khalid Desai en Nabil Swart.
Suliman plaas die stryd teen apartheid in die Kaap in historiese konteks. Hy wys daarop dat die eerste Moslems as ballinge en slawe uit Asië en Afrika ingevoer is nadat Jan van Riebeeck, ʼn amptenaar van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, in 1652 'n verversingspos hier gevestig het, wat later ʼn kolonie sou word. Hulle het 'n politieke bewussyn saamgebring wat eeue later sou weerklink.
Hy voeg by dat Islamitiese waardes soos welwillendheid, geregtigheid en verantwoordelikheid baie Moslems gemotiveer het om weerstand as 'n godsdienstige plig te sien.
Kontemporêre debatte ontgaan hom ook nie. “Ek hoor stellings oor ‘kleurling’- of ‘bruin’-identiteit, maar my agtergrond in Antropologie herinner my daaraan dat ras en kultuur sosiale konstrukte is.”
Persoonlike wortels, gedeelde doel
Beide studente se akademiese pad is onafskeidbaar van hul persoonlike agtergrond.
Padiachy het hoofsaaklik in Alberton, in die suide van Johannesburg, grootgeword. Sy put inspirasie uit die onreg wat haar pa, Pregie, as kind ervaar het: “Teen die ouderdom van sewe het hy albei sy ouers verloor. Hy en sy broers en susters is onder familielede in verskillende dele van die land uitgedeel omdat daar nie behoorlik na alle hulpbehoewendes omgesien is nie.”
Haar ma, Abigail, stam af van kontrakarbeiders wat van Indië na Suid-Afrika gebring is. Beide haar ouers se ervarings het haar laat besef hoe maklik lewens en kulture verwerp of uitgewis kan word.
Suliman het in Boston, Bellville, grootgeword nadat hy en sy gesin aanvanklik in die nabygeleë Kuilsrivier gewoon het. Sy liefde vir geskiedenis is aangewakker op kampeer-vakansies saam met sy pa, Rashaad (wat twee jaar gelede oorlede is), en sy ma, Afia. Besoeke aan nasionale parke en erfenisterreine het hom lief vir die land en die verlede gemaak.
En dit gee hom sy missie as geskiedkundige – om gemeenskapskennis vas te lê voor dit verdwyn. Soos hy dit stel: “Die ouer garde sterf, en saam met hulle verdwyn stories en tradisies. Daar is nog soveel om op te teken.”
Parallelle soeke, toekomstige paaie
Hoewel Padiachy op die internasionale konteks fokus en Suliman op Kaapstad, oorvleuel hul werk tog. Beide kyk na hoe mag bepaal wie se lyding erken of geïgnoreer word.
Padiachy sê: “Ek verwag nie dat my tesis opslae in Den Haag gaan maak nie, maar ek hoop tog dit kan die konseptuele verwarring rondom ‘volksmoord’ help opklaar.”
Sy hoop om ná haar MA verder te studeer. “Te dikwels definieer Westerse akademici demokrasie, gelykheid en geregtigheid vir ons. Ons moet self kennis in die Globale Suide produseer. Vir my gaan navorsing nie oor prestige nie – dit gaan daaroor om my voorouers te vereer, die onderdruktes te ondersteun en van die wêreld 'n beter plek te maak.”
Suliman deel dié toewyding, hoewel hy op geskiedenis en erfenis fokus. “Ek mag dalk terugkeer na argiewe of museums. Ek stel veral belang in restitusie deur die terugbesorging van geplunderde artefakte aan Afrika,” sê hy.
“Maar vir nou wil ek net my meestersgraad voltooi. En my punt is dat as ons net op die ‘groot name’ fokus, ons vele ander bydraes miskyk. Hul stories verdien om vertel te word.”
Erfenis en genesing
Padiachy en Suliman het 'n akademiese tuiste gevind by AVReQ, gelei deur prof Pumla Gobodo-Madikizela, wat die SARChI-leerstoel Navorsingsleerstoel in gewelddadige geskiedenisse en transgenerasionele trauma beklee. Die sentrum bestudeer geweld en die nalatenskap daarvan – fisies, struktureel, simbolies, oorgeërf – met genesing as kernmissie.
In hierdie omgewing resoneer hul werk met mekaar. Haar kritiek op stilswye in die internasionale reg komplementeer sy herontdekking van vergete aktiviste. Beide plaas kultuur op die voorgrond – die onreg wat plaasvind wanneer dit uitgewis word, en die momentum wat die nalatenskap van weerstand die stryd vir geregtigheid bied.
As sodanig spreek hul navorsing direk tot Erfenismaand in Suid-Afrika en herinner hulle ons daaraan dat die stryd om erkenning – of dit nou op die wêreldverhoog of in plaaslike gemeenskappe is – deel uitmaak van pogings om die mensdom se wonde te herstel.
- AVReQ begin in Januarie 2026 met 'n nuwe interdisciplinary MPhil MPhil in Gewelddadige Geskiedenisse en Herstel in January 2026. Die closing date Die sluitingsdatum vir Suid-Afrikaanse aansoekers is 31 Oktober. 31 October.
- CAPTION: Irshaad Suliman and Yaadein Padiachy. PICTURES: Desmond Thompson
Desmond Thompson is ’n vryskutjoernalis.
