Alumni van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het die Maties se vlag en trots hoog gehou deur onder die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners van 2024 gereken te word. Reino Erasmus (Tegnologie & Innovasie) het ʼn Magister in die Lettere en Wysbegeerte in Visuele Kunste (Ontwerp) aan die Universiteit Stellenbosch behaal en het ook die tegnologie-ontwerpkonsultantfirma, Ampersand, saam met sy sakevennoot, Greig Timkoe, gestig.
Ander Maties-alumni sluit Pieter Odendaal (Kuns & Vermaak) in. Mnr Odendaal (35) is 'n skrywer, vervaardiger en senior lektor in kreatiewe skryfwerk aan die Noordwes-Universiteit. Onder sy kwalifikasies het hy 'n MPhil in Volhoubare Ontwikkelingsbeplanning en -bestuur (US), 'n Nagraadse Diploma in Volhoubare Ontwikkelingsbeplanning en -bestuur (US) en 'n BA in Taal en Kultuur (US). Lynn Daphne Rudolph is ook in die kategorie kuns en vermaak gekies. Haar kwalifikasies sluit in 'n Baccalaureus in Musiek (Altviooluitvoering; Klassieke Studies) en 'n Meestersgraad in Musiek (Solo Altviool; Klassieke Studies) van die Universiteit Stellenbosch. Alumnus, Dr Curwyn Mapaling tans by Universiteit van Johannesburg as Senior Lektor vir Kliniese Sielkundige in die Departement van Sielkunde het sy staal bewys in die Mail and Guardian 200 Young South Africa Education kategorie. In sy dissipline integreer hy sielkundige beginsels in hoër onderwys en verder om welstand in die globale Suide te bevorder. Hy het 'n Baccalaureus Sielkunde (Berading), Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Magister Artium (Kliniese Sielkunde en Gemeenskapsvoorligting), Universiteit Stellenbosch en Doktor in Filosofie (Opvoedkunde), Nelson Mandela Universiteit.


Die “200 Jong Suid-Afrikaners” is ʼn toekenning wat aan ʼn groep jongelinge toegeken word wat volgens die Mail & Guardian die mees invloedryke jong Suid-Afrikaners van die jaar is. In hierdie 19ste 19de jaar van die toekenning, het die Mail & Guardian 4 000 benoemings van die publiek ontvang wat tot 200 individue uitgedun moes word op grond van hulle individuele prestasies, vermoë om leiersrolle in hulle onderskeie velde in te neem, erkenning deur eweknieë en die publiek, en gewilligheid om aan die samelewing terug te gee. Die uiteindelike lys met wenners is in 18 verskillende kategorieë verdeel. Mnr Erasmus is in die ‘Tegnologie & Innovasie’-kategorie gekies. “Die toekenning verleen nie slegs erkenning aan die werk wat ek doen nie, maar belangriker nog, dit motiveer en inspireer my om groter uitdagings aan te pak. Hierdie toekenning beteken besonder baie vir die ontwikkeling van my loopbaan, aangesien dit my vermoë beklemtoon om ontwerp en tegnologie te integreer op ʼn wyse wat oplossings lewer wat tersaaklik en sensitief vir die Suid-Afrikaanse konteks is,” sê mnr Erasmus
Mnr Erasmus het ʼn nagraadse kwalifikasie, die Magister in die Lettere en Wysbegeerte in Visuele Kunste, as ʼn werkende beroepspersoon aan die Universiteit Stellenbosch onderneem, nie slegs om sy begrip op die gebied van ontwerp te verdiep nie, maar ook vir die uitdaging daarvan om aan so ʼn vooraanstaande universiteit te gradueer. Hy bevestig dat sy tyd aan die Universiteit Stellenbosch hom grootliks in sy persoonlike en professionele hoedanigheid geslyp het. Hy het geleer dat dit ʼn voorreg is om ʼn Matie alumnus te wees. Mnr Erasmus (34) staan aan die voorpunt van die revolusie in leer by die Nelson Mandela Universiteit se Sentrum vir Gemeenskapstegnologie, en ontwikkel toepassings soos die ‘eReady ICT Readiness Assessment Tool’, ʼn hulpmiddel vir die implementering van tegnologie-geïntegreerde leer-ervarings en die aankweek van gelyke opvoedkundige geleenthede regoor Afrika-gemeenskappe heen. Mnr Erasmus se ander persoonlike passie is Ampersandwww.ampersandstudio.co.za.Hierdie organisasie, waarvan hy 10 jaar gelede die medestigter was, spesialiseer in die ontwerp van digitale platforms, stelsels, toepassings en hulpmiddels. Ampersand het reeds tegnologie-oplossings vir die openbare en privaat sektor, en oor verskillende velde (waaronder bemarking, onderwys, gesondheid, openbare administrasie, en navorsing en ontwikkeling) heen, gelewer.
Namens die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, die Departement Visuele Kunste en die Universiteit Stellenbosch wens ons mnr Erasmus geluk met hierdie roemryke erkenning. Hy is ʼn ware ambassadeur vir Matie-trots en ons wens hom alle voorspoed toe met die res van sy loopbaan.
