Die Opedag, Saterdag 20 April 2024, is ʼn belangrike dag op die geleentheidskalender van die Universiteit Stellenbosch. Die jaarlikse geleentheid word ontwerp en aangebied om voornemende aansoekers, ouers en naasbestaandes van voornemende studente op die Universiteit Stellenbosch se hoofkampus op Stellenbosch en ook op ander kampusse te onthaal. Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskape het moeite gedoen om die gaste en voornemende aansoekers welkom te heet deur die aanbied van ʼn interaktiewe opedaggeleentheid in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou, die Adam Small Teaterkompleks en die Krotoa-gebou. Die hoofgebou van die Fakulteit het al die tale aangebied, waaronder Afrikatale, Afrikaans en Nederlands, Antieke Studies, Engels, Moderne Vreemde Tale en Algemene Taalwetenskap. Filosofie, Politieke Wetenskap, Geskiedenis, Sielkunde, Maatskaplike Werk, Sosiologie en Sosiale Antropologie is in lokaal 3001 van die Krotoa-gebou aangebied. Lokaal 1012 het Inligtingswetenskap, Geografie en Omgewingstudies, Menslike Hulpbronne en Joernalisme gehuisves.



Die jaarlikse Opedag-werwingsprogram het op 6 April met die loods van die Opedag-webwerf [Stellenbosch University Open Day | Forward Together (sun.ac.za)] afgeskop.Stellenbosch University Open Day | Forward Together (sun.ac.za)Voornemende studente kan die webwerf besoek, inligting naslaan en video’s uit die onderskeie fakulteite, diens- en steundepartemente van die Universiteit kyk. Aansoeke vir voornemende studente het amptelik op 1 April geopen en sal op Woensdag 31 Julie 2024 sluit. Die Stellenboschkampus was ʼn miernes van aktiwiteite en geleenthede met talle voornemende studente (sommige in skooluniform) wat gretig was om meer te leer oor studiegeleenthede wat met hulle gekose loopbaanbelangstellings strook. Daar was selfs graad 10-leerders wat gekom het om meer inligting in te samel, sodat hulle ingeligte besluite oor hulle vakkeuses en toekomstige studies kan neem. “My dogter is nou oortuig. Sy was beïndruk. Stellies is vir haar die plek om te wees. Sy is in graad 11, maar wil graag aan die Universiteit Stellenbosch kom studeer wanneer sy klaar is met graad 12,” sê Delicia Rorich, ʼn ouer.



Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het ʼn spesiale en gedenkwaardige Opedag-geleentheid aangebied. Diegene wat die Fakulteit besoek het, is met hulle aankoms op gratis springmielies getrakteer en kon vrylik tussen die 18 departementele stalletjies rondbeweeg om meer inligting en materiaal in te samel en kon ook die verskillende departementele aanbiedings en inligtingsessies in die hoofgebou, die Adam Small Teaterkompleks en die Krotoa-gebou bywoon. Daar was ook ʼn toer deur die Departement Visuele Kunste, die Departement Drama en die Departement Musiek se konservatorium. Dit het aan die departemente die geleentheid gebied om sommige van hulle studente se praktiese werk en die komponente van hulle onderrig- en leerruimtes ten toon te stel.

Lede van die BA-studentekomitee (BASK), onder leiding van Sam Morrick, was proaktief by die inligtingsessies en die verrigtinge van die dag betrokke. Sommige het as programleiers vir die inligtingsessies opgetree en sommige op die dag as inligtingsbeamptes en toergidse vir die besoekers. “Dankie, dit was wonderlik om vandag te kon help,” het Qobo-Lwam Damane, Transformasie en Kultuur portefeuljebestuurder vir die BASK, gesê. Namens die Fakulteit wil ons ons opregte dank teenoor die BASK-lede uitspreek vir hulle bydrae. Dit sluit in Sam Morrick, Nosiviwe Mpukane, Amber Nieuwenheyze, Sisiphiwo Jaca, Zybian Anders, Kauthar Jardine, Qobo-Lwam Damane en Sbusiso Zwane. Ons wil ook die klasverteenwoordigers wat betrokke was, bedank. Sam Morrick, Nosiviwe Mpukane, Amber Nieuwenheyze, Sisiphiwo Jaca, Zybian Anders, Kauthar Jardine, Qobo-Lwam Damane and Sbusiso Zwane. Ons wil ook die klasverteenwoordigers wat betrokke was, bedank.

Mev Fiona van Kerwell (projekkoördineerder vir WOW) en me Jeneen Wallow (Studentewerwing) het ook leerders uit die Universiteit Stellenbosch se WOW-projek saamgebring om Opedag 2024 by te woon en die verskillende studiegeleenthede wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word, te beleef. Die Fakulteit wil graag ons opregte dank uitspreek teenoor diegene uit elke departement wat betrokke was, en hulle studente, wat op die dag ambassadeurs was vir die verskillende programme waarin hulle studeer. Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe sien daarna uit om kwalifiserende nuwe aansoeke vir die 2025 akademiese jaar te ontvang en om ʼn nuwe groep eerstejaarstudente te verwelkom.
