Onlangs het prof Lindy Heinecken en prof Sandra Swart (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), in samewerking met kolonel dr Laetitia Olivier (Fakulteit Krygskunde), hul akademiese vaardighede van die klaskamer na die stalle geneem.

Prof Heinecken is die visedekaan vir navorsing en ’n sosioloog in dié Fakulteit. Haar navorsing is toegespits op die gewapende magte en die samelewing, met ’n spesifieke belangstelling in burgerlike-militêre verhoudings. Prof Swart is ’n omgewingsgeskiedkundige by die Departement Geskiedenis en bestudeer die verhouding tussen mense en diere. Kolonel dr Olivier is ’n militêre strateeg en dosent aan die Militêre Akademie.

Alhoewel die kernprestasiearea van militêre akademies op opvoedkundige opleiding gemik is, is dit ewe belangrik dat die offisiere ook die vereiste leierskapsvaardighede moet aanleer. As ’n potensieel gevaarlike en lewensbedreigende loopbaan moet die offisiere sekere eienskappe vir die hantering van stresvolle situasies ontwikkel.

Perdgefasilteerde leierskapopleiding (in Engels, Equine-facilitated Leadership Training, of EFLT) is ’n ideale manier om hierdie vaardighede te slyp. Volgens prof Heinecken: “Een van die belangrikste karaktertrekke van ’n offisier is om die fisiese en morele moed te hê om vrees onder stresvolle situasies te beheer. Selfbeheersing, die vermoë om kalm te bly, en die bevordering van samewerking en kohesie in tye van stres is noodsaaklik in ’n operasionele konteks. Offisiere moet eweneens oor die buigsaamheid beskik om probleme te kan oplos onder onvoorspelbare omstandighede. Op persoonlike vlak moet ’n offisier in staat wees om terugslae en kritiek te hanteer, selfvertroue te ontwikkel en die vertroue van ondergeskiktes aan te wakker om effektiewe leiers te wees. EFTL is ’n wyd erkende vorm van ervaringsleer wat hierdie eienskappe en vermoëns by leiers ontwikkel.

Die vyf dag lange EFLT-program is in Januarie 2023 by die West Coast Military Equestrian Club gehou en het verskeie interaksie en kommunikasie oefeninge met perde behels.

Op die eerste kursusdag is ’n grondslag gelê deur die offisiere gewoond te maak aan perdegedrag en te wys hoe ’n perdetrop met mekaar kommunikeer. Opleiding is gegee in observasie en die insameling van intelligensie, en hoe perde as prooi en tropdiere reageer.

Op dag twee was die doel om esprit de corps te ontwikkel, wat na ’n gees van kameraadskap en entoesiasme binne die militêre eenheid verwys. Die offisiere moes leer hoe om ’n verhouding met die perd te vestig, vertroue te kweek, en samewerking met die perd te bevorder. Dit het ’n oefening om by die perde “aan te sluit” behels.

Dag drie was op die reëls van betrokkenheid gerig. Nadat die offisiere die basiese beginsels van perdegedrag en etiket aangeleer het, is hulle touwys gemaak met die gee van opdragte aan die perd.

Dag vier was gerig op bevel en beheer, leierskap, en offisiere se behendigheid met die gebruik van hul leierskapvermoëns om die perde tot verskeie komplekse take te oorreed, sonder dat geweld ingespan word.

Op die laaste dag moes die offisiere ’n spesifieke taak uitvoer met die kennis wat in die week opgedoen is. Die perde se samewerking moes bekom word om ’n bepaalde doel te bereik sonder fisiese aanraking van die perd en deur slegs perdetaal te gebruik.

Prof Heinecken het lesings en praktiese oefeninge oor verskeie onderwerpe gegee, waaronder observasie en die insameling van intelligensie; hoe om met die perd te kommunikeer en ’n verhouding met die dier te bou; die reëls van betrokkenheid; en hoe perde se samewerking bekom kan word. Prof Swart het gefokus op die dinge wat perde ’n mens oor lyftaal en leierskapsvaardighede kan leer. Kolonel dr Olivier het die militêre konteks verleen en die waarde aangedui van die spesifieke opleiding vir die toekomstige offisiere se loopbane.

Prof Swart, wat die skrywer van Riding High : Horses, Humans and History in South Africa (Wits Univ Press) is, wil graag haar lesse voortsit oor wat perde ons kan leer. Haar volgende kursus, “Boss Mare”, word by die Maties Perdryklub op die Stellenboschkampus aangebied. Prof Swart sê, “Die kursus is ontwerp vir alle studente en personeel om lyftaal selfgeldend te kan gebruik. Dit is ’n twee uur lange werkswinkel en my twee merries doen die grootste deel van die onderrig. Enigiemand wat belangstel kan my skakel (sss@sun.ac.za). Dis gratis!”