Ongeag die vakgebied of jaar van studie, die aanpak van ʼn PhD kan ʼn lang, eensame reis wees. Die PhD-kollokwium, “Somebody, Somewhere” (“Iemand, Iewers”), wat op 1 en 2 April onder die kuratorskap van die Nagraadse Skool vir alle PhD-studente in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aangebied is, was ʼn broodnodige platform vir koverte gemeenskapsbou, ʼn teenmiddel teen die intellektuele afgesonderdheid en angstigheid, die gevoel van verlore wees, wat ʼn mens dikwels tydens ʼn PhD ervaar.

“Ons het die kollokwium na die HBO-reeks vernoem,” sê die Visedekaan: Navorsing, professor Stella Viljoen, “omdat hierdie reeks die krag van ʼn onwaarskynlik vriendskap om eensaamheid en ʼn gebrek aan doelgerigtheid op te hef , uitbeeld. Dit handel oor ʼn vrou wat op ʼn klein dorpie in Kansas woon en wat vriendskap binne ʼn onwaarskynlike gemeenskap vind – ʼn vriendskap wat haar verdriet en gevoel van nutteloosheid tot ʼn mate genees.” Die kollokwium is by die Departement Visuele Kunste aangebied, maar was ʼn hibridiese geleentheid wat ook aanbiedings deur studente aan universiteite in die PANGeA-netwerk (waaronder studente van, byvoorbeeld, die Universiteit van Ghana en die Universiteit van Nairobi) ingesluit het. Die kollokwium is ontwerp om aan studente die geleentheid te bied om hulle PhD-projekte aan eweknieë uit ander vakgebiede en toekomstige medewerkers voor te lê, opbouende terugvoer en kritiek van ʼn oplettende gehoor te ontvang, nuwe bronne en metodes van navorsing te ontdek, en om nuwe netwerke oor vakgebiede en die vasteland heen, op te bou. Aanbieders het 15 minute ontvang om hulle referate aan te bied en dan opmerkings en vrae uit die gehoor te hanteer. Die projekte het ʼn ongelooflik uiteenlopende verskeidenheid onderwerpe gedek, waaronder Linda Mang'eni se ontleding van die metafore wat deur die Keniaanse politikus, Raila Odinga, gebruik word; Eddington Maseya se studie oor die bestuur van olifante in nasionale wildtuine en Vasti Calitz se argument vir die erkenning van alternatiewe vorms van intimiteit.

                                               

Oor die standaard van die aanbiedings sê professor Taryn Bernard, die Visedekaan: Leer en Onderrig in die Fakulteit: “Ek is verstom.” Drie pryse is aan die beste referate toegeken. Die wenners was Emmanuel Phiri (Geskiedenis) wat navorsing doen oor die uittarting van vroue- bierbrouers in Zambië se Stedelike Kopergordel tussen 1927 and 1939, Nicola van der Westhuizen (Sosiologie en Sosiale Antropologie) wat skryf oor, wat sy noem, infrastrukturele subjektiwiteite en subjektiewe infrastrukture, die bestuursbeheer, verhoudings en bestaansmiddele van onbestendige gemeenskappe in die Hermanus-gebied, en Florence de Vries (Joernalistiek), wat skryf oor die uitbeelding van geestesiekte in die media, in die besonder News24 se dekking van die geestesgesondheid van twee internasionale atlete.

“Die kollokwium het ons verwagtinge oortref,” sê dr Candice Steele, bestuurder van die Nagraadse Skool van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. “Ons is reeds geweldig opgewonde daaroor om hierdie geleentheid volgende jaar weer aan te bied. Ons hoop en vertrou dat die doktorale studente in die Fakulteit die belangrike werk van gemeenskapsbou sal voortsit deur die talle geleenthede wat regdeur die jaar plaasvind!”

 

Read more on the proceedings of the day and abstracts of the Presenters:

https://arts.sun.ac.za/files/2025/04/Somebody-Somewhere-Programme-ABSTRACTS-LIST.pdf