ʼn Toelae van meer as R20 miljoen is aan die Sentrum vir Inligtingsintegriteit in Afrika (CINIA) aan die Universiteit Stellenbosch toegeken om multidissiplinêre vennootskappe vir die versterking van inligtingsintegriteit in die globale suide saam te roep. Die toelae, wat deur die Kanadese Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum (IDRC) verskaf word, sal ʼn driejaarprojek ondersteun om medewerking tussen verskeie navorsingsorganisasies, -praktisyns en -aktiviste in Afrika, die Midde-Ooste en Noord-Afrka (MENA), en Latyns-Amerika en Asië te fasiliteer.

Die projek se hoofnavorser is prof Herman Wasserman, die direkteur van CINIA. Wasserman sal ʼn span lei om projekte oor kwessies soos disinformasie, mediageletterdheid, tegnologie-gefasiliteerde gendergebaseerde geweld (TGGG) en generatiewe KI te koördineer. Die projek se doel is om multidissiplinêre en innoverende navorsing, belanghebbendes se medewerking, beleidsvoorspraak en kapasiteitsbou te bevorder. Die projek word gemotiveer deur die vinnige veranderinge in sosialemediaplatforms oor die onlangse paar jaar, wat diepgaande implikasies vir die integriteit van die inligtingsekostelsel inhou. Navorsing is nodig om die globale afmetings van die bedreigings vir hierdie ekostelsel en die impakte daarvan op demokratiese veerkragtigheid en ontwikkeling in die besonder, te verstaan.

Wat deesdae as die inligtingsversteuring bekend staan, kom nou algemeen voor – en dit maak dit feitlik onmoontlik vir gewone mense om te weet of dit wat hulle aanlyn en in sosialemediatoevoere lees, waar of disinformasie is. Waninligting en disinformasie sáám versterk politieke, godsdienstige en etniese polarisasie en veroorsaak dat die onafhanklike media minder vertrou word. Dit moedig ook gendergebaseerde teistering en diskriminasie aan. Hierdie toenemende onvermoë om waninligting en disinformasie van onpartydige feite te onderskei, gebeur die oomblik wanneer ontwrigtende tegnologieë prolifereer, platformregulering en aanspreeklikheid afneem, en veiligheidstandaarde, inhoudmoderering en feitetoetsing verdwyn. Die gebrek aan bestuursbeheer in die digitale openbare sfeer word gekoppel aan nasionale belange en kwessies van vryheid van uitdrukking, kommunikasieregte, mediageletterdheid en datasoewereiniteit. Mediagebruikers se vermoë om toegang tot onpartydige en feitelike inligting te verkry, raak al hoe meer kompleks aangesien die sosialemedialandskap deur dramatiese politieke verskuiwings, ʼn internasionale afname in die oppergesag van die reg, respek vir die bestuur van die internet deur grondbeginsels en ʼn algemene afname in internasionale samewerking ontwrig word. Sosialemediaplatforms is nou vrugbare grond vir die bevordering van vooroordeel en die teenstaan van gelykheid, diversiteit en insluiting.

Prof Wasserman verduidelik die nodigheid van die projek soos volg: “Pogings deur organisasies, navorsers, joernaliste en aktiviste om bedreigings vir inligtingsintegriteit te konfronteer, vind in geïsoleerde silo’s plaas, wat interaksie en die uitruil van kennis oor sektore en streke heen beperk. Dit beperk die vind van omvattende oplossings en verminder die waarskynlikheid van sukses van elke ingryping en beleidsrespons. Om die verspreiding van waninligting, disinformasie, geweld en teistering teen te werk, is gerigte kruisstreekse en kruissektorale benaderings dringend nodig om meer koördinasie en samehang aan te kweek. Dit is nodig om die moontlikheid te vergroot van ʼn aanlyn openbare sfeer wat inligtingsintegriteit gegrond op feite en bewyse ondersteun, en die demokrasie, maatskaplike samehorigheid en veiligheid beskerm.”