Prof Emanuel Bylund en sy navorsingsmedewerker, buitengewone professor Panos Athanasopoulos, is met reg opgewonde oor die goeie nuus dat hul navorsingsprojek oor veeltalige besluitneming ruim befondsing van die Sweedse navorsingsraad ontvang het. Die navorsingsbefondsing beloop ZAR8 miljoen en sal ’n beduidende bydrae tot die uiteindelike sukses van hul navorsingsaktiwiteite lewer.

Die navorsingsprojek steun op die bevindings dat meertalige individue dalk ander besluite kan neem (oor risikoneming, moraliteit) afhangende van die taal waarin hulle dink. Gestel jy kom voor ’n scenario te staan wat betref risiko-assessering in jou tweede taal, dan sou jy dalk ’n ander besluit neem as wanneer jy voor dieselfde scenario in jou eerste taal te staan kom. Tot dusver is daar weinig navorsing oor veeltalige besluitneming in meertalige samelewings gedoen, en die klem was eerder op eentalige samelewings in die globale Noorde. Prof Bylund verduidelik dat daar ’n aansienlike leemte in die literatuur bestaan aangesien dit steeds onbekend is of die bevindings veralgemeen kan word vir kontekste waar mense gereeld tussen veelvuldige tale wissel, soos in Suid-Afrika.

Die goedkeuring vir die navorsingsbefondsing het nie oornag gebeur nie en dit het die navorsers ’n ruk geneem om die aansoek voor te berei, gevolg deur ’n wagtydperk van agt maande. Met die medewerking van prof Athanasopoulos wat in Swede gevestig is, vertoon die projek al die kenmerke van ’n billike samewerkingsooreenkoms tussen die globale Suide (Suid-Afrika) en die globale Noorde (Swede). Die navorsingsprojek kom ook op die regte tyd gegewe die Universiteit Stellenbosch se volgehoue strewe om medewerking tussen hoëronderwysinstellings plaaslik, nasionaal en internasionaal te bewerk. “Dit is vir ons ’n wonderlike geleentheid om die departement en die universiteit aan die voorpunt van navorsing oor veeltalige denke te plaas. Daar is byna geen deelname uit Afrika oor hierdie onderwerp nie, al het die vasteland die hoogste voorkoms van veeltaligheid wêreldwyd,” sê prof Bylund. Die navorsing plaas linguistiese navorsing en die Universiteit Stellenbosch aan die spits op ’n globale skaal.

Die projek duur vier jaar en die navorsers ontvang bystand van ander navorsers in die onderskeie lande. Fondse word aangewend vir eksperimentkoste (data-insameling, vergoeding, en programmering); navorsingsassistentskappe; plaasvervangende onderrig; en reiskoste. Ná die afhandeling van die projek word die navorsingsbevindings in vaktydskrifte gepubliseer, met subskripsies wat uit fondse vir oop toegang betaal word. Dit beteken die bevindings is vrylik beskikbaar aan enigiemand wat belangstel om daaroor op te lees.

Namens die Departement Algemene Taalwetenskap, die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en die Universiteit Stellenbosch wens ons die navorsers sukses toe met hul navorsingsprojek en enige ander projekte in die toekoms.

Dankie dat julle die reputasie van die Universiteit Stellenbosch as ’n navorsingsintensiewe universiteit op globale skaal gestand doen.

Lees meer oor die onderwerp oor veeltaligheid:

Africa’s linguistic diversity goes largely unnoticed in research on multilingualism

 

Lees meer oor die Fakulteit se suksesse en die onlangse Navorsings- en Innovasietoekennings by:

https://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=10964

Lees meer oor die Fakulteit se navorsingsfokusareas en navorsers by:

https://arts.sun.ac.za/research-clusters 

Find out more about the Swedish Research Council at:

https://www.vr.se/english.html