Ten spyte van die vordering in inligtings- en kommunikasietegnologie, kan dit deesdae ʼn senutergend en angswekkende ondervinding en verantwoordelikheid vir graad 11-leerders wees om te kies wat om te studeer, waar om te studeer en of jy aan die basiese toelatingsvereistes vir daardie spesifieke program voldoen. Derdejaarstudente in Maatskaplike Werk Nkosinathi Mulakanya, Lebogang Chiloane en Athenkosi Gxekwawat by Kinderwelsyn in Khayamandi geplaas is, het ekstra moeite gedoen en op 03 Oktober 2024 ʼn loopbaandag, hoofsaaklik op graad 11-leerders gemik, by Makupula Sekondêre Skool gereël. Hierdie spesifieke aktiwiteit vorm deel van hulle leeruitkomste in die Maatskaplike Werk Praktikum-program.

Ander studente is ook by hulle onderskeie gemeenskapswerkprojekte vir die praktikum betrokke. Sommige leer intellektueel gestremde inwoners by sorgfasiliteite hoe om hulle SASSA-toelaes (Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid) te begroot, doen bewusmaking van geestes- en fisiese gesondheid, bevorder veiliger sekspraktyke en het ʼn boekklub gevestig. Ander projekte by ʼn sorgfasiliteit vir bejaardes sluit die aanbied van psigososiale opvoeding met betrekking tot die oorgang na ʼn sorgfasiliteit in. Die studente fasiliteer ʼn projek ten opsigte van die behartiging van ongewenste swangerskappe by ʼn hospitaal. Verskeie ander projekte by skole sluit in bewusmaking rondom tienerswangerskappe, die hantering van afknouery en kuberafknouery, liggaamsveiligheid vir graad 2- en 3-leerders, die insameling van voedsel vir behoeftige leerders en bewusmaking van kindermishandeling in die groter gemeenskap.
Student in Maatskaplike Werk, me. Chiloane, het as programdirekteur die skedule van die program beheer.

Mr Sivuyile Mdaka van die Universiteit Stellenbosch se Studentewerwingseenheid, vergesel van dr Tasneemah Cornelissen-Nordien (praktikumkoördineerder en dosent) en mnr Asanda Alex Plaatjies (bemarkings- en kommunikasiekoördineerder), het die US-handelsmerk en -beeld uiters goed verteenwoordig en die leerders ingelig oor wat dit behels om by Maties te studeer..
“Die keuse om Maatskaplike Werk te studeer, is ʼn lonende ervaring en lei tot beroepsvervulling. Dit gaan oor die behoeftes van die gemeenskap waarbinne jy werk, in ag neem, en oor die netwerke wat jy vorm,” het Dr Cornelissen-Nordien gesê. As die praktikumkoördineerder van haar studente, was dr Cornelissen-Nordien ook ʼn goeie ambassadeur vir die maatskaplikewerkberoep deur die leerders aan die wonderlike en lonende wêreld van maatskaplikewerkspraktyk bloot te stel.
Mnr Asanda Alex Plaatjies het vir die leerders beklemtoon dat hulle met die kies van ʼn studierigting behoorlike navorsing moet doen, die toelatingsvereistes moet weet en ʼn rigting moet kies wat by hulle geesdrif en eienskappe pas; veral in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Die US Studentewerwingsadviseur, mnr Sivuyile Mdaka, het aan die leerders ʼn holistiese oorsig gegee van die Universiteit Stellenbosch en wat dit beteken om hier te studeer en Maties te raak. Vir meer inligting oor die US, kan voornemende aansoekers besoek aflê by Adviesdienste (sun.ac.za). Advisory Services (sun.ac.za).

Ter afsluiting het die student in Maatskaplike Werk, Nkosinathi Mulakanya, wat uit Mpumalanga kom, die leerders vertel van sy ervarings ná sy besluit om in Kaapstad, verder van die huis af, te kom studeer, en die lesse wat hy tot dusver geleer het.
As deel van hulle gemeenskapsbetrokkenheid en verbintenis, wat deel van hulle studies vorm, is die derdejaarstudente elke Donderdag by Makupula Sekondêre Skool om broodnodige maatskaplike steundienste aan die gemeenskap te lewer. Namens die Fakulteit en die Universiteit Stellenbosch wens ons hulle sukses toe met hulle studies en hulle ondernemings teenoor gemeenskappe in nood, wat verteenwoordigend is van waarvoor die Universiteit se handelsmerk staan.
