Daar is ʼn Afrika-gesegde: “Totdat die leeu sy eie geskiedskrywer kry, sal die verhaal van die jag altyd die jagter verheerlik.” Prof Swart het die uitdaging aanvaar om ʼn nuwe soort geskiedenis te skryf, om te wys hoe om die leeu se geskiedskrywer te word. Hierdie beduidende en unieke benadering tot die geskiedenis, dierespesies en mense het vir haar ʼn plek op die langlys van die Sunday Times se letterkunde-toekennings – ʼn groot eer onder die letterkundegilde in Suid-Afrika – losgeslaan.

Hierdie boek bied ʼn splinternuwe manier om die verlede te verstaan, waarin diere nie slegs sleutelrolle in die menslike geskiedenis speel nie, maar ook in eie reg. Deur diere in te sluit, kan ons ou geskiedenis op nuwe maniere vertel. Die insluiting van diere ‘rond’ nie slegs die prentjie ‘af’ nie, maar daag in werklikheid trasidionele vertolkings uit. Die boek toon aan dat diere oor kulture van hulle eie beskik, wat oor tyd verander en in medewerking met Homo sapiens.Hierdie boek omarm radikale interdissiplinariteit. Met haar agtergrond in geskiedenis en omgewingswetenskappe, kombineer prof Swart die natuurwetenskappe (biologie, etologie, bewaringsbiologie, paleontologie) en die sosiale wetenskappe, mondelinge geskiedenis, inheemse kennis en argiefgeskiedenis. Dus word die hedendaagse denke oor diere se gevoelsvermoë, agentskap, kognisie en emosie saamgevoeg tot ʼn begrip van hulle rol in ons gedeelde geskiedenis. Hierdie boek pak drie nuwe kwessies in dieregeskiedenis aan: diep tyd (geologiese of kosmiese tyd), tradisionele ekologiese kennis en die demonstrasie van hoe dieregeskiedenis ʼn ‘bruikbare verlede’ kan bevorder, wat beide diere en mense in die hede help.
“Hierdie boek dink bewustelik na oor hoe ons nou, in hierdie tydperk van globale krisis, met ʼn brandende wêreld in meer as een sin van die woord, oor diere skryf. As ons nie alleen is nie en gegewe ons huidige globale krisis van massa uitsterwing, is ons bereid om verder as die konvensie dat ‘geskiedenis’ slegs die storie van ons eie spesie is, te beweeg? Ek wil aantoon wat mense-diere-geskiedenis kan doen, nie slegs om ons plek in die wêreld beter te verstaan nie, maar om ons wêreld – al is dit ook net effens – ʼn beter plek te maak,” sê prof Swart. Dit is veral van belang om daarop te let dat die verwikkeldheid tussen mense en ander diere ons verlede gevorm het, maar om ook daarop te let dat dit iets meer suggereer. In die huidige rampspoedige biodiversiteitskrisis moet ons as mense nuwe maniere vind van leef en met ander wesens in die heelal omgaan.

Prof Swart se boek is niefiksie. Sy is van mening dat sommige dele moeilik leesbaar sal wees, aangesien dit moeilik was om te skryf. Dit is ʼn boek met slagtande en kloue – dit maak seer terwyl dit hoop voorhou. Dit is inderdaad ʼn boek wat tot almal spreek wat probeer om Suid-Afrika se weerbarstige en gebreekte verlede te verstaan en ook geskiedenis-entoesiaste, natuurliefhebbers en daardie stoere mense wat glo in biodiversiteit en die medebestaan van diere en mense. Dit is vir haar as geskiedskrywer baie belangrik om die langlys vir hierdie toekenning te haal. “Dis ʼn wonderlike eer en ek is baie trots daarop! Die toekenning bestaan reeds meer as drie dekades lank en is een van Suid-Afrika se mees gesogte letterkunde-toekennings. Die toekenning sal toegewys word aan ʼn boek wat ‘die illuminasie van die waarheid [aanbied], veral die vorms daarvan wat nuut, delikaat en nie in die mode nie is nie, en mag trotseer’, en wat ‘medelye, elegante skryfwerk, en intellektuele en morele integriteit’ demonstreer,” sê prof Swart. Sy voeg by: “Dit is doelwitte wat enigeen trots sou wees om na te mik, om nie te praat van bereik nie. In die historisering van diere gaan ek dikwels lynreg in teen historiese ortodoksie. Hierdie navorsing is nuut en omarm verskeie onkonvensionele en ongewilde onderwerpe – tot so ʼn mate dat ek ʼn drukbooglêer vol korrespondensie het (‘Haatpos Volume II’).”
Lekker lees! Lesers kan uitsien na olifante, okapi’s, leeus, jakkalse, koeie, skape, perde, rysmiere, kwaggas, Nazi-beeste, polisiehonde, bobbejane en kokaïen-seekoeie wat aan Pablo Escobar behoort het! Die boek word uitgegee deur Jacana Media en is reeds landwyd by Exclusive Books en ander betroubare boekwinkels beskikbaar teen ʼn kleinhandelprys van R330.
