Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe kondig met trots aan dat die hoogs gesogte Iso Lomso-genootskap aan dr Carina Venter van die Departement Musiek toegeken is. Dr Venter, wat vantevore ’n Iso Lomso besoekende genootskap ontvang het, het intussen na ’n volwaardige driejaargenootskap oorgeskakel, wat haar uitsonderlike bydraes tot die akademie weerspieël.

Die Iso Lomso-genootskap het in 2017 tot stand gekom met die doel om die gaping tussen die afhandeling van PhD-opleiding en die vestiging van vakkundiges in navorsingsinstellings en universiteite te oorbrug. Hierdie driejaarprogram wil ’n nuwe generasie Afrika vakkundiges kweek en hulle van die intellektuele leierskapsvaardighede voorsien wat vir die ontwikkeling van die kontinent nodig is.

Dr Venter het tydens haar huidige genootskap as ’n Iso Lomso- besoekende vakkundige uitsonderlike akademieskap prestasies behaal. Die Direktoraat en die Programkomitee van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) was dit eens dat dr Venter die toekenning van ’n volle genootskap verdien.

Die genootskap sluit in ’n residensietydperk by STIAS, sowel as die moontlikheid van ’n tydperk as navorser-in-residensie by een van die vennoot-institute vir gevorderde navorsing, of in ander gesogte vakkundige omgewings. Die opleidingstydperk gee genote die geleentheid om hulle op die ontwikkeling en voortsetting van langtermyn navorsingsprojekte toe te spits. Dit bied ’n interdissiplinêre ruimte waar genote kan nadink, skryf, en waardevolle terugvoer oor hul navorsing van mede-vakkundiges in die program te ontvang. Boonop bied dit ’n uitstekende geleentheid om verhoudings en netwerke te bou met vakkundiges van oor die hele wêreld wat ook navorsers-in-residensie by STIAS is.

Dr Venter kry tussen 2024 en 2026 die geleentheid om altesaam nege maande navorsing by STIAS in Suid-Afrika te doen, met ’n moontlike residensietydperk in die buiteland, hetsy by ’n vennoot instituut vir gevorderde navorsing, hetsy by ’n ander navorsingsintensiewe instelling. Deur hierdie internasionale bekendstelling word die navorsing verder verryk, terwyl intellektuele groei aangemoedig word.

Die Fakulteit is dankbaar vir die ondersteuning wat ontvang is en dit vir dr Carina Venter moontlik maak om hierdie uitsonderlike geleentheid aan te gryp. Die Universiteit sien uit daarna om dr Venter se verdere groei en prestasies dop te hou terwyl sy deur die Iso Lomso genootskap tot die intellektuele leierskap en ontwikkeling van die vasteland bydra.

“STIAS se verbintenis tot die ontwikkeling van vroeëloopbaan vakkundiges deur die Iso Lomso genootskappe is iets besonders. Ek is dank verskuldig aan die mentors, vriende en kollegas wat my werk onophoudelik ondersteun en my denke help vorm. Hierdie geleentheid is vir my geweldige aanmoediging,” sê dr Venter.