Prof Tina Steiner en prof Louise Green (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe) is opgewonde oor hulle uitnodiging na die eersdaagse ASSAf- (Academy of Science of South Africa )toekenningseremonie vir boekpryse in die menswetenskappe, waar dié twee US-akademici vir hulle uitnemende prestasies erken sal word.
Hoewel ’n ander werk die eerste prys verower het, het hulle werke eervolle vermelding ontvang as drie van die heel uitnemendste akademiese publikasies van die jaar. Prof Steiner en prof Green is albei aan die Departement Engels verbonde. Prof Steiner se boek, Convivial Worlds: Writing Relation from Africa (2021), ondersoek alledaagse vorme van geselligheid in fiksie- en lewenskryfwerk uit Oos- en Suidelike Afrika met die oogmerk om die betekenis van repertoires van herstel te ondersoek in ’n wêreld wat deur asimmetriese magsverhoudinge versplinter is. Prof Green se Fragments from the History of Loss: The Nature Industry and the Postcolony (2020) beskou klimaatsverandering en omgewingskrisis vanuit die Suid-Afrikaanse perspektief om aan te toon hoe die lang geskiedenis van imperiale en koloniale uitbuiting steeds response op die huidige krisis help vorm.
Nasionale erkenning van hierdie aard is ’n seldsame gebeurtenis, en albei akademici is hoog in hulle skik daarmee dat hulle werk onder die top drie publikasies ingesluit is. Prof Steiner sê sy is dankbaar teenoor die ASSAf vir dié bemoedigende blyk van bevestiging. Prof Green reken dit is ’n voorreg dat so ’n uitmuntende span interdissiplinêre vakkundiges haar werk lees.
Die ASSAf-toekenningseremonie, wat op 30 Maart in Kaapstad plaasvind, sal ’n geleentheid wees wat nog lank onthou word, met akademici vanoor Suid-Afrika wat byeenkom om die bestes op die gebied te vereer. Profs Steiner en Green sien daarna uit om hulle navorsing en skryfwerk voort te sit, nuwe idees te ondersoek en die grense te toets van wat in die menswetenskappe moontlik is.
